Thursday 27 October 2011

Die Hof vir Klein Eise

Hierdie is ‘n regsinstrument wat meer aangewend behoort te word deur elke individu wat ‘n siviele eis onder R 12 000.00 het. Vir die persoon wat nie deel is van die regslui nie,  is enige hofprosedures meer ‘n afskrikmiddel as ‘n regsremedie.  Ek hoop hierdie artikel sal die proses vir u meer eenvoudig maak.

Wie mag ‘n eis instel ?
Enige individu maar geen maatskappy, beslote korporasie of enige ander regsentiteit nie.

Teen wie mag die eis ingestel word ?
Behalwe teen die staat mag enige siviele eis onder die bedrag van R 12 000.00 ingestel word teen maatskappye, beslote korporasies en selfs munisipaliteite.
Egskeiding kan nie deur hierdie hof aangehoor word nie.

Prosedure:
Eerstens moet ‘n skriftelike aanmaning aan die teenparty gestuur word en dit is beter om dit per geregistreerde pos te stuur of persoonlik af te gee met ‘n ontvangserkenning.
In hierdie aanmaning moet die gronde vir die eis behoorlik verduidelik word.

Die teenparty het 14 dae om te reageer en verweer aan te teken.
Na die 14 dae moet gerapporteer word aan die klerk van die Klein Eise Hof in persoon met die bewyse, asook die bewys van aflewering. Die klerk sal ‘n hofdatum bepaal vir die aanhoor van beide partye se weergawes.

Die klerk sal jou ook behulpsaam wees om ‘n dagvaardiging uit te reik teen die ander party. Die dagvaardiging moet op die persoon beteken word. Indien u dit nie self wil doen nie,  kan die balju gevra word maar daar is kostes vir die betekening wat u sal moet betaal.Stel jou getuies in kennis van die verhoordatum en kry jou bewyse reg vir die bepaalde hofdatum.

Indien die teenparty aan jou eise voldoen voor die verhoordatum,  stel die klerk van die hof in kennis sodat u nie die hof se tyd mors nie.
Die verhoor word aangehoor deur ‘n kommissaris en nie ‘n landros of magistraat nie. Die kommissaris is normaalweg ‘n prokureur.

Geen prokureur mag u of die ander party verteenwoordig nie. Geen kruisondervraging vind plaas nie en slegs die kommissaris het die reg om vrae te vra en sal sy besluit daarvolgens maak.

Die kommissaris se besluit is finaal en geen appèl word toegelaat nie. Indien die teenparty nie onmiddelik na die beslissing kan betaal nie, sal sy finansiële posisie deur die hof ondersoek word en betalingreëlings sal met hom getref word.

Hierdie is ‘n eenvoudige proses sonder enige regstaal of Latyn of hoog Engels, en is ontwerp vir die algemene man op straat.
So gebruik dit.

Groete tot volgende keer

CA GROBLER
Neels@vdberglaw.co.za

Monday 24 October 2011

Spyt kom te laat

Ek is so lief vir my volkie maar ek verstaan hulle soms glad nie !

Hoekom is ons mense bereid om geld in ‘n skema te bele teen honderde duisende rande selfs miljoene rande sonder om eers huiswerk te doen of nog beter deur ‘n professionele persoon te laat doen.

Die makelaar nader ons met die mooiste foto’s van ‘n projek en natuurlik ‘n gepaste storie wat daarmee gepaard gaan. Volgens hom is dit die regte voertuig om jou geld waarvoor jy ‘n leeftyd gewerk het te gebruik om finansiele onafhanklikheid te verseker. Hierdie projekte wissel van diamante wat van die seebodem geduik word tot ‘n nuwe olie neerslag in Mosambiek. Ek kan nog honderde van hierdie projekte opnoem maar sal geen doel dien nie want daar word daagliks nuwes bygevoeg.

Die strekking bly agter altyd dieselfde groot opbrengste en min risiko. Op hierdie stadium sal dit goed wees om die projek te laat ondersoek deur ‘n forensiese ondersoekbeampte en eerder R 3000.00 te spandeer en ‘n ingeligde besluit te neem. Maar nee ons bele eerder die geld en na die tyd spandeer ons duisende rande se regskostes om die geld terug te vorder sonder enige sukses. Indien daar nie bates is nie en daar is nie geld om terug te vorder nie kan ons niks terugkry nie.

My mense moet sekere feite verstaan, regulerende instansies soos byvoorbeeld die Raad op Finansiele dienste reguleer slegs instansies wat by hulle geregistreer is. Indien nie geregistreer nie word hulle nie gereguleer nie.

Die makelaars is in die meeste gevalle ook slagoffers aangesien hulle ook deur die produk verskaffer om die bos gelei word. En indien die makelaar en sy kliente al hulle geld verloor het en geen geloofwaardigheid by hulle kliente het nie , kry die sogenaamde produk verskaffer net ‘n nuwe perd om te ry.

Aan my makelaars vriende, onthou die klient bele in jou integriteit en glo in jou vermoens en gaan by jou die geld soek as dit eers weg is.Maak seker van jou produk verskaffer. As hy of sy produk onbekend is en hy niks het om weg  te steek nie vra hom of hy eers ondersoek kan word.Indien hy bereid is om dit te laat doen en die verslag is positief kan jy dit met ‘n skoon gewete aan jou klient verskaf.

Groete tot volgende keer

CA GROBLER

Neels@vdberglaw.co.za

Nigerie 419

Hierdie skema is reeds meer as 12 jaar aan die gang en ek het nie gedink dit is nodig om weer daaroor te gesels nie maar nadat kliente van my ‘n maand gelede ingedoen is moet ons maar weer daaroor praat.

Twee van my kliente het ‘n skrywe per e-pos ontvang waarin hulle meegedeel is dat ‘n groep sakemanne in Nigerie sukkel om geld vanaf ‘n besigheids transaksie uit die land uit te kry.Indien hulle hiermee behulpsaam sou wees, sal 30% van     $ 60 000 000.00 aan hulle oorbetaal word. Wie sal nie $ 18 000 000.00 wil he nie. Miljoeners oornag  sonder om veel daarvoor te doen.

Hulle het telefonies met die Nigeriese burgers in aanraking gekom en kort daarna ‘n e-pos van The Central Bank of Nigeria ontvang wat die transaksie bevestig het.
Kort hierna het hulle na Lagos gevlieg waar hulle ingewag is deur die sakemanne wat hulle rondgewys het. Hulle het selfs bankamptenare ontmoet wat na bewering die skrywe aan hulle gestuur het.

Hulle is om geen geld gevra nie wat die transaksie meer geloofwaardig gemaak het. Die Nigeriers het wel vir hulle gese dat die transaksie met ses maande uitgestel gaan word aangesien daar regskostes is van $ 50 000.00 maar dat hulle nie verwag dat my kliente dit moet betaal nie.Die sakemanne het hulle versoek om terug te keer na Suid Afrika en te wag vir verdere instruksies.

My kliente het besluit dat hulle soveel geld gaan maak dat hulle die $ 50 000.00 sal betaal en het inderdaad die geld oorbetaal.So is ‘n verdere $ 5 000.00 versoek om aan die “Business Hubb”oor te betaal wat die transaksie sal fasiliteer in Mauritius.

Drie dae later is hulle versoek om die kliente in Mauritius te ontmoet waar hierdie transaksie gefinaliseer kan word.My kliente moes natuurlik vir almal se vliegtuigkaartjies betaal. Die Nigeriese burgers sou vir die hotel akkommodasie betaal. Die Nigeriers is reeds die woensdag deur Mauritius toe en my kliente het die vrydag gevlieg. Hulle het saam in dieselfde hotel gebly en die maandagoggend sou hulle na die business hub gaan soos die Nigeriers dit gestel het om die dokumentasie finaal te teken.

Die maandag oggend was daar geen teken van die Nigeriers nie en volgens die hotel het hulle reeds sondag aand teruggevlieg en die hotel rekening oop my kliente se naam geboek. Ter inligting die “Business Hub “ is ‘n wyse van spreke mense en nie ‘n fisiese gebou nie.

Gierigheid het natuurlik weer ‘n rol gespeel aangesien my een klient reeds ‘n nuwe Toyota Prado aangeskaf het en die ander klient ‘n nuwe huis wat hy nie kan beskostig nie gaan koop het met ‘n groot deposito want sien daar is miljoene oppad. Hulle het hierdie voertuig sowel as die huis verloor.Hulle totale verlies was R 700 000.00 sonder die voertuig en die huis.Hierdie skema begin altyd deur ‘n epos of faks wat u ontvang. Die skrywe is nooit aan u persoonlik gerig nie maar eerder aan die besturende direkteur, die President van die maatskappy ensovoorts.

U word vertel dat u hulp benodig word om geld uit Nigerie of ‘n ander Afrika land oor te plaas. Die persoon het normaalweg of geld geerf of is senior amptenaar van die regering of ‘n verteenwoordiger van ‘n instansie soos Die Nigerian National Petroleum Corporation wat geld wil oorplaas uit “The Central Bank of Nigeria “  die instansie is egter nie instaat om die geld oor te plaas sonder die hulp van ‘n buitelandse persoon nie. Dit is ook normaalweg geweldige bedrae soos $ 40 000 000.00. hulle beloof dan dat indien u behulpsaam sal wees sal die verdeling as volg wees. 70% vir hulle en 30 % vir u.

Hulle weet dat 30% van 40 miljoen dollar enige person se belangstelling sal prikkel. Die skrywe word ook spoedig opgevolg deur ‘n skrywe van The Central Bank of Nigeria af wat natuurlik hierdie transaksie bevestig.Die skrywes is ook altyd gemerk “urgent “ “confidential “ en u sal merk dat hierdie skrywes normaalweg vol spelfoute is.

Die outeur van die skrywes het ook in baie gevalle titels soos Dr, Chief, Barrister of prins of prinsses.Die slagoffer gee dan aan hierdie persone sy bank besonderhede asook kontak besonderhede. Hulle vra selfs ‘n skoon briefhoof aan sodat hulle kan vasstel of die maatskappy werklik bestaan.

Sommige mense wat Nigerie besoek het is daar as gyselaars aangehou en geld vir hulle Vryheid word geeis. In sommige gevalle is van die slagoffers daar vermoor.

Hierdie skema word wereldwys geken as Nigerie 419 aangesien all dade waar wanvoorstelling plaasvind onder artikel 419 van die Nigeriese wetgewing as bedrog verwys.

Indien enige van hierdie voorvalle gebeur DINK ASSEBLIEF VERDER

Groete tot volgende keer

CA GROBLER

Neels@vdberglaw.co.za

Thursday 13 October 2011

My vriend die plaasboer

Met ‘n skoon oopgesig soos dit ‘n goeie boerseun betaam steek hy sy hand uit as hy die boer groet , kyk hom in die oe en stel homself voor.

Hy weet van die plaasboer se probleem want hy het daarvan te hore gekom by oom Piet die buurman. Hy verstaan dat die plaas nie sy volle potensiaal kan bereik sonder daardie broodnodige addisionele kapitaal nie.

Met die beplande nuwe uitbreiding op die plaas kan hierdie resessie met sukses afgeweer word. Hy verteenwoordig ‘n maatskappy wat kapitaal vanaf die buiteland kan bekom wat geoogmerk is om verligting vir boere te bring.

Die fondse kan natuurlik uit verskeie bronne beskikbaar wees, Die wereldbank, Die internasionale monotere fonds wat handel dryf met bank instrumente en tien minute later knik die plaasboer instemmend maar verstaan lankal nie meer wat die oulike jong man aan hom vertel nie.

Maar ons word aangedryf deur vrees. Want se nou maar net dat hierdie skema moontlik is dan is al die probleme op ‘n end.So jong man verduidelik asseblief vir my hoe dit werk.Oom moet net die aansoekvorm voltooi en daarna word dit deur hoofkantoor ge-evalueer en indien oom se aansoek suksesvol is kan die geld binne 10 werksdae beskikbaar wees.

Geen gelde is natuurlik vooraf betaalbaar nie want ons is nie skelms nie.
Daar sal egter ‘n 0.5 % betaalbaar wees na die bedrag in die rekening inbetaal word.
Indien die aansoek onsuksesvol is sal daar natuurlik geen kostes wees nie.
So oom plaasboer het niks om te verloor nie.
Die aansoek sal natuurlik ‘n beter kans staan vir goedkeuring as die bedrag 1 miljoen Doller oorskry.
Die aansoek vorms word voltooi en die jong man is daar weg.
Oom plaasboer bel natuurlik vir Piet die buurman wat erken sy aansoek is al reeds in en wag vir ‘n antwoord.
Wel in daardie geval moet ons maar ‘n paar ander boere hiervan vertel soos dit ‘n goeie buurman betaam.

Op die wyse word 10 en meer aansoeke in ‘n paar dae voltooi.
Die jong man skakel terug en vra die boere om hom sommer almal op een plaas te kry.
Op hierdie heugelike dag word die goeie nuus dan meegedeel dat almal se aansoeke goedgekeur is en dit is die eerste keer dat so iets gebeur.
So al wat nou moet gebeur is 10 dae wag periode.
So 5 dae later is die jong man terug met dokumentasie van ‘n buitelandse bank af wat bewys lewer dat die fondse goedgekeur is en die bankrekening nommers waar die geld inbetaal moet word, word nou bevestig.

Op dag 10 word die plaasboer gekontak en die vriendelike jong man doen die meededeling dat die geld oorgeplaas kan word sodra die buitelandse prokureur betaal word. Gelukkig is dit nie baie nie en slegs 5000 dollar per boer. Maar wat is 5000 dollar as die 1 miljoen dan nou beskikbaar is.

Die geld word in een dag van al die boere ontvang en die jong man is weg

Vir altyd....

Groete tot volgende keer

CA GROBLER
Neels@vdberglaw.co.za

Multivlak bemarking of Piramide Skema

Ek is weereens genader deur ‘n multivlak bemarkings maatskappy met ‘n goeie produk. So ek dink dit is tyd dat ons vir ‘n oomblik stilstaan en daarna kyk.
Mense word normaalweg deur vriende genader om deel te neem aan hierdie nuwe wonderlike skema met die beloftes om groot geld te maak met min inset kapitaal en min moeite.

Ons word natuurlik weer aangedryf deur vrees en gierigheid die normale twee sondebokke van ons menswees.

Die vrees dat indien hierdie skema gaan werk en ek is nie deel daarvan nie gaan ek uitmis en natuurlik ons gierigheid om reeds dinge te koop in ons gedagtes met geld wat ons nog moet bekom. As dit bekend klink let dan asseblief op die volgende gevaartekens.
Indien jy enige fooi moet betaal soos administrasie fooi, registrasie fooi of enige vorm van lidmaatskap fooi is dit reeds die begin van ‘n piramide skema.
Indien die werwing van nuwe lede meer belangrik is as die bemarking van die produk is dit ‘n piramide skema.

Indien die produk net aan lede en nie aan die algemene publiek aangebied word nie is dit ‘n piramide skema.

Ons moet die vraag vra, as die produk so goed is hoekom word dit nie in kettingwinkels direk aan die publiek aangebied nie.
Indien hierdie produk soveel beter is as ander produkte hoekom kry u dan geld vir die werwing van nuwe lede.

Omdat daar soveel vlakke is wat elkeen ‘n gedeelte moet kry op die produk beteken dit dat die pryse so gelaai moet word dat dit nie kompeterend met soortgelyke produkte in die mark sal kan meeding nie.



Kom ons doen net die berekening op 9 vlakke met net 6 nuwe lede op elke vlak dan dink ons weer of dit moontlik is.

                                                                  6
                                                                  36
                                                                 216
                                                                1296
                                                                7776
                                                                46656
                                                               279936
                                                            1679616
                                                            10077696

Met ander woorde op vlak nege is ons reed verby 10 miljoen mense.
En op watter vlak het ek betrokke geraak moet eintlik die vraag wees.
Hierdie skemas maak nie net van ons slagoffers nie maar ook oortreders.
Kriminele oortreders wat bedrog klagtes in die gesig staar.
U gaan nie net u geld verloor nie maar ook kosbare vriende.
Die ou maar nie uitgediende gesegde as ‘n ding te goed is om waar te wees dan is dit waarskynlik so.       

Groete tot volgende keer

CA Grobler
Neels@vdberglaw.co.za

Die Afgetrede Teiken (3 Die Wet)

3. Die wet
Die misdadigers word normaalweg vir ‘n gemenskaplike misdryf bedrog aangekla tesame met artikel 11 van die bankwet.
Die klagtes van bedrog val normaalweg weg en slegs die klagte van die oortreding van die bankwet bly staan. Die rede hiervoor is dat dit nie prakties uitvoerbaar is om die persone vir bedrog aan te kla nie. Elke bedrog klagte moet individueel en afsonderlik bo redelike twyfel deur die staat bewys word.
Dit beteken dat dag, datum tyd en plek van voorval bewys moet word en alle betrokke persone wat deel was van die spesifike transaksie moet daaroor getuig. Dit beteken die belegger, die agent wat hom genader het en enige oogetuies wat die transaksie gesien het. Verder moet die dokumentasie wat in die transaksie beteken is voor die hof bewys word asook bewys dat daar werklik geld oorbetaal is vanaf die slagoffer na die instansie. Al hierdie dokumentasie kan betwis word. Al hierdie prosedures moet gevolg word in elke transaksie waarvoor die beskuldigde aangekla word. In die meeste gevalle is daar duisende beleggers betrokke. Wat beteken dat duisende mense in die hofsaak moet getuig. En na die getuienis afgele is het die verdediging natuurlik die reg tot kruisondervraging. Met ander woorde al kan selfs 2 getuies per dag getuig en gekruisondervra word sal ‘n saak soos krion, gaius ens jare duur om net die mondelikse getuienis af te handel.
Dus word die persone vir artikel 11 van die bankwet aangekla. Dit is ‘n statutere oortreding wat enige persoon verbied om as ‘n bank handel te dryf sonder om as ‘n bank geregistreer te wees. Vir vonnis oplegging word die klagtes normaalweg saamgelees as een klagte. Die maksimum vonnis vir ‘n oortreding van die bankwet is 5 jaar gevangenisstraf.
So as die misdadiger R 500 miljoen kan steel en 5 jaar gevangenisstraf daarvoor uitdien is dit vir hom steeds ‘n goeie besigheid.
                                
  
4. Die Polisie
Die Suid afrikaanse polisie diens en meer spesifiek die handelsmisdaadeenheid hanteer en ondersoek witboordjie misdade. Die polisie kan egter slegs optree nadat ‘n misdryf gepleeg is en hulle inligting onder eed ontvang het. In hierdie stadium het die belegger ongelukkig reeds sy geld verloor en sal dit hom nie terug sit in die finansiële posisie wat hy was voor hy die belegging gedoen het nie.

5. Wenke vir goeie beleggings
Hiedie wenke is nie ‘n aanduiding waarin om te belê nie maar eerder waarna om op die uitkyk te wees voor u die belegging gedoen het.
1. Indien die agent op kontant aandring wees versigtig.
2. Indien u buitensporige opbrengste aangebied word.
3. Indien die kontrak ‘n samerwerkings ooreenkoms is.
4. Indien die kontrak slegs na die agent en nie na die maatskappy verwys nie.
5. Indien die maatskapy se naam of registrasie nommer of die name van die direkteure nie op die kontrak    voorkom nie.
6. Indien daar nie ‘n prospektus is wat geregistreer is nie.
7. Indien die agent kriewilrig is as u die egtheid van die dokumentasie wil verivieer.
8. Indien die agent wil he u moet ‘n onmiddelike besluit neem aangesien dit slegs vir ‘n paar mense plek is om aan deel te neem.
9. Indien u ‘n nie openbaarmakings dokument moet teken
10. Indien die agent vaag is op welke wyse die maatskappy sy geld verdien

6. Slotsom
Ek wil dit weereens beklemtoon dat alle finansiele adviseurs,. Bemarkers of makelaars nie oneerlik is of daarop uit is om u te bedrieg nie. In die meeste gevalle sal die persone in u belang optree solank ons net weet daar is witboordjie misdadigers daarbuite wat ‘n studie van u omstandighede maak en presies weet hoe om sy slagoffer te benader en uit te buit.
Geniet u goue jare !!



Groete tot volgende keer

CA Grobler
Neels@vdberglaw.co.za

Die Afgetrede Teiken (2 Tipiese Skema's)

2.1 Die hoë opbrengste buitelandse belegging
‘n Goeie vriend nader u aangesien hy weet dat u ‘n geheim kan bewaar en stel jou voor aan sy finansiële adviseur.
Na ‘n bietjie oorreeding word u oorgehaal en ingelaat op die groot geheim wat die volgende behels:
Die transaksie staan bekend as
- Rol program
- High Yield program
- Bank secured trading program
- Currency trading program
Daar word verduidelik dat hierdie High Yield handel dryf in die volgende :
- World bank paper
- Federal reserve notes
- IMF issued notes
- Letters of credit
- Bank guarentees
- Medium term notes
Hoe dit werk :
Hulle kan vir u 300 % plus rente verdien in ‘n kort tydperk deurdat hulle bank waarborge aankoop en weer verkoop. Dit word ‘n program genoem en die program loop normaalweg veertig weke.
Daar word voorgehou dat banke aan mekaar geld veskuldig is deurdat verskillende banke se kliënte met mekaar handel dryf en sodoende word waarborge uitgeryk.
Hierdie bankwaarborge is dan ‘n verhandelbare dokument.
Verder word verduidelik dat die Amerikaanse Reserwe Bank hierdie transaksie goedkeur en reguleer sodat hulle ‘n monolopie op die dollar buite die VSA kan plaas.
U is nou natuurlik deel van ‘n geselekteerde groep mense en moet ‘n nie-openbaarmakingsdokument teken.
Hierdie transaksie is dan ook so geheim dat selfs die banke dit sal ontken.
U kapitaal word gewaarborg deur banke soos :
- Lloyds Bank
- Chase Manhatten
- Deutsche bank
U Kapitaal is natuurlik 100 % veilig en hulle het alreeds miljoene uit hierdie transaksies verdien. Die terminologie wat die mense gebruik sal slegs die professionele bankier verstaan en dit ontmoedig verdere vrae deur uself.
Hierdie is mos vooranstaande mense wat weet waarvan hulle praat.
Wanneer u om verwysings vrae word die nodige dokumentasie van die Federale Bank van die Verenigde State van Amerika, die Wereldbank en die Internasionale Monotêre Fonds aan u getoon.
Die dokumentasie is normaalweg van  hoogstaande gehalte maar as gevolg van die sensitiwiteit van die transaksie kan u nie die geldigheid van die dokument nagaan nie.
U geld is in elk geval so veilig dat die geld in u naam in ‘n bank gedeponeer word en ‘n waarborg en bewys van fondse word uitgereik deur een van die top vyftig banke in die wereld. Hulle sal altyd na die top vyftig banke in die wereld verwys en selfs aan u verduidelik dat Absa nommer 245 op die wereldranglys is. Absa is nie nommer 245 op die ranglys nie.
Dit is ook risiko vry deurdat die belegging deur die Internasionale Monotêre Fonds onderskryf word en ‘n IMF registrasie nommer sal aan u verskaf word.
Hierdie belegging sal ook u belastingprobleme oplos angesien hulle vir u ‘n buitelandse rekening sal oopmaak. Hierdie rekening is normaalweg in die Isle of Man, Jersey of Caman eilande.
Die opbrengste sal ook in hierdie rekening inbetaal word en u bekom ‘n kredietkaart waarmee u
R 5 000.00 per dag kan onttrek.
Die meeste persone maak dan wel vir u ‘n buitelandse rekening oop. Kort hierna ontvang u die kredietkaart vanaf die bank en dit is die finale oortuiging.
In sommige gevalle ontvang die belegger wat in hierdie skema belê selfs die eerste maand die
R 5 000.00 rente.
Baie selde die tweede maand en dan kom die verskonings en dan word daar aan u verduidelik dat die geld vanaf die buiteland moet inkom en dat dit tyd vat.
As u begin moeilik raak word u gewaarsku om versigtig te wees voordat u polisie toe gaan aangesien u die Wet op Divisebeheer oortree het.
Hierdie skema is so goed aanmekaar gesit dat ek ‘n paar voorbeelde wil noem van instansies wat deurgeloop het.
National Council of Churches $ 7.98 miljoen
City of Clovis VSA $ 3.5 miljoen
Bank of Bohemia $ 600 miljoen
Chicago Housing Program $ 12.5 miljoen

Die ware feite :
Banke gebruik wel bankwaarborge om betaling te verseker vir internasionale handel.
Hierdie bankwaarborge word egter NOOIT mee handel gedryf nie.
Die Internasionale Handelskamer maak reëls vir die manier waarop handel gedryf word in die
internasionale handelsektor.

Dit staan bekend as die UCP 500 maar dit stel geen finansiële instrumente daar om mee handel te dryf nie.
Verder sal hulle geen waarborge uitreik vir die handel in sulke instrumente nie.
Die IMF is ‘n interne goewerment organisasie wie se finansiële transaksies en operasies direk uitgevoer word deur sy lidlande en slegs deur ‘n genomineerde agent deur elke lidland vir hierdie spesifieke doeleindes. Byvoorbeeld die Minister van Finasies.
Die IMF dryf glad nie handel deur middel van privaat agente nie en nog minder endoseer hulle die bedrywighede van enige bank, instansie of individu nie.
Volgens die Internasionale Handelskamer se eenheid vir Handelsmisdaad beloop hierdie bedrog skema ongeveer $ 10 miljoen per dag en dit is slegs in Noord Amerika.
Hulle glo verder dat slegs ongeveer 10% van die gled wat jaarliks gesteel word aangemeld word.
Hierdie sake word ook selde by die Suid-Afrikaanse Polisie aangemeld vir hoofsaaklik twee redes.
Eerstens is die slagoffer bang hy het ‘n misdaad begaan deur die geld onwettig die land uit te neem en tweedens kan die slagoffer nie bekostig om te glo dat hierdie skema nie waar is nie.
Die realiteit dat hy alles verloor het is te groot. Hy sal eerder vasklou aan die bietjie hoop dat die geld wel eendag uitbetaal sal word.
Ek het ‘n Suid-Afrikaner in London ontmoet wat etlike miljoene rande belê het. Ek het hom ingelig dat die skema nie bestaan nie en het selfs aan hom die bewyse verskaf. Dokumentere bewysse dat hierdie skema nie bestaan nie is vrylik beskikbaar en word geadverteer op die internet.
Hy was onmiddelik vyandig en het verdere miljoene rande belê.


2.2 Krion
Krion Finasiële dienste was weereens bedryf onder die vaandel van kort termyn lenings aan die publiek.ook bekend as mikro leners. Daar is selfs na die besturende direkteur van die Krion groep verwys as ‘n engel wat die arm afrikaners help. Die gedagte dat korttermyn lenings aan die publiek gemaak word teen 30 % per maand en dan 10 % aan die belegger uitbetaal word klink geloofwaardig genoeg. Dit was egter weer net ‘n piramiede skema wat die beleggers in elende gedompel het. Soos voorheen reeds beskryf is dit juis die mense wat feitlik geen ander opsie het as om hoër opbrengste te gaan soek wat die prooi is vir die piramiede skemas. Dit is juis die mense wat nie die geld het om dit te verloor nie. Wat meer uitsonderlik was in die Krion geval was die feit dat daar meestal met kontant gewerk is. Dit behoort dadelik die rooi ligte te laat flikker. Met Krion is ‘n totale gemeenskap tot armoede gedwing.
           
2.3 Emus
Hierdie was ‘n piramied skema waarvan Gerhard Grobler die besturende direkteur van die maatskappy is. Hierdie skema was vir meer as twee jaar bedryf. Die beleggers is ‘n opbrengste van
10 % per maand belowe. Tot en met die datum wanner die Suid-Afrikaanse Polisie se Handelsmisdaadeenheid op Emus en sy direkteur toegeslaan het, het die beleggers hulle 10 % per maand ontvang. Die meeste van die beleggers was selfs vir die polisie kwaad omdat hulle hierdie skema stopgesit het. Emus was ‘n geregistreerde privaat maatskappy opgerig volgens die maatskappywet en die statute van hierdie land.
Die maatskappy en sy agente het aan die beleggers voorgehou dat hulle ‘n mikroleners besigheid bedryf en dit was die bron van inkomste waarvan die 10 % per maand gegenereer sou word.
Volgens Emus het hulle kontrakte met die mynbedryf gehad waar die geld aan die myn se werknemers sou geleen word. Die geld word uitgeleen teen 30 % per maand en die belegger ontvang sodoende sy 10% per maand.

 Die maatskappy het ‘n droom verkoop maar het aan die einde van die dag slegs elende gehad om vir hulle goedgelowige beleggers te offer.
Daar was geen mikroleners bedryf nie en dit was ‘n piramiede skema. Grobler is aangekla van Artikel 11 van die Bankwet. Dit is die ou wet op Deposito nemende Instellings. Dit wet kom basies daarop neer dat as ‘n persoon of instansie deposito’s van die publiek neem hy handel dryf as ‘n bank en moet dan dienooreenkomstig as ‘n bank geregistreer wees.
Aan die einde van Emus se termyn het Grobler se prokureur hom oortuig dat hy die bankwet oortree en hom gehelp om ‘n nuwe maatskappy op die been te bring wat die bankwet sou omseil.
Sodoende is Gaius Group of Companies gestig.

  
2.4 Gaius Group of Companies
Gaius Group of Companies was dus ‘n direkte uitvloeisel van Emus gewees. Hier het die struktuur van die maatskappy so verander dat dit ‘n doelbewuste poging was om die Bankwet en die Maatskappywet te omseil.
Gauis Group of Companies het uit vyftig maatskappye bestaan. Een houer maatskappy en 49 maatskappye waarvan al die aandele gehou was deur die houer maatskappy. Die aandele van die houer maatskappy was weer opgeneem deur die Grobler se besigheidstrust. Sodoende kon Grobler die maatskappy bedryf sonder dat hy ooit as ‘n direkteur van die maatskappy benoem is. Direkteure met die regte agtergrond in die oë van die publiek is aangestel. Gauis het verder kantore gehuur wat net die beste was en het die indruk geskep van welvaart en sukses.
In Gaius se geval was daar nie van beleggers gepraat nie aangesien dit weer sou neerkom op ‘n oortreding van die bankwet. Beleggers het in hierdie geval aandele gekoop in die maatskappy.
 Een aandeel was verkoop teen R 25 000.00 elk. Dit was dan ook die rede dat daar 49 privaat maatskappye gestig is sodat daar genoeg aandele sou wees.
Die wet bepaal dat in ‘n privaat maatskappy daar slegs 50 aandeel houers kan wees. Dit was ook ‘n rede waarom 49 privaat maatskappye gestig was. Gauis het nog een probleem gehad voordat hulle kon begin nuttelose aandele verkoop. Artikel 143 van die Maatskapy wet bepaal dat geen aandele aan die publiek verkoop mag word sonder ‘n prospektus nie. ‘n Prospektus is basies enige dokument wat ‘n lid van die publiek beweeg om aandele in ‘n maatskapy op te neem. ‘N verdere vereiste is dat hierdie ‘n openbare maatskappy moet wees en dat die prospektus by die registrateur van maatskappye geregistreer moet wees.
Hoe nou gemaak. Maklik Artikel 144 van die Maatskapy wet bepaal onder andere dat as daar mense is met ‘n gemeenskaplike oogmerk word hulle nie beskou as algemene lede van die publiek nie.
Hierdie artikel bepaal natuurlik nie presies dit nie maar dit is aan die publiek voorgehou en ‘n maatskappy met die naam Inflasion Basher Group is gestig waar lede van die publiek kon lid word. Sodoende is hulle nie meer lede van die algemene publiek nie en word die maatskappy wet omseil.
Gauis het verder 8.75 % dividende aan hulle aandeelhouers beloof. Let daarop dat dit nie meer rente aan beleggers is nie maar dividende aan aandeelhouers. Dividende word egter uit wins verklaar en aangesien hierdie ‘n piramied skema was was dit maar niks anders as Emus nie.
Komplekse strukture en manupilasie van die landswette is hier gebruik om die voornemende slagoffer te beindruk en te vang. Gauis het aan hulle aandeelhouers voorgehou dat hulle geld in die buiteland verdien deur High Yield beleggings. Verder het Gauis net soos Emus voorgehou dat hulle in die mikroleners bedryf was.
Gauis is ‘n goeie voorbeeld van ‘n maatskappy wat geregistreer was by die registrateur van maatskappye en steeds ‘n piramied skema bedryf het. Ons moet ons nie laat flous net omdat die regte dokumentasie voorberei is en geregistreer is nie. Die registrateur van maatskappye se funksie is om die prospektus te registreer. Die maatskappy wet skryf wel die vereistes van die registrasie voor maar die registrateer van maatskappye is nie die reguleerder van die maatskappye se bedrywighede waarvan hy die prospektus goedgekeur het nie. Dit beteken slegs dat die vereistes van die wet van toepassing op die registrasie van die prospektus nagekom is.
2.5 Die gesamentlike projek
Die witwoordjie misdadiger wat piramide skemas bedryf is in die meeste gevalle baie inoverend. In ‘n onlangse geval het dit onder my aandag gekom dat beleggers 10 % per maand aangebied is deur ‘n instansie. Die kontrak wat egter met die slagoffer gesluit word verwys na ‘n samewerkings ooreenkoms en na ‘n projek. Wat dit eindelik beteken is dat u ‘n venoot is in ‘n besigheid wat ‘n projek gaan loots. U gaan natuurlik nooit enige geld ontvang nie en as u die instansie hof toe neem word na die kontrak verwys en u word as ‘n venoot beskou in ‘n besigheid wat nie gewerk het nie. U kan dus nie die geld van die instansie verhaal nie aangesien dit ook net ‘n venoot is wat saam met u geld verloor het.
Die misdadiger stig dan net weer ‘n nuwe besigheid met ‘n nuwe naam en siedaar hy is weer instaat om nuwe venote in te neem.
In al die kontrakte wat ek gesien het was die meesterbrein agter die instansie se naam en handtekening nooit op enige kontrak nie. Die agente wat vir die persoon werk teken namens die instansie wat dit ‘n armlengte transaksie van die misdadiger af weghou.
Die agente glo ook in die projek tot hy nie meer bestaan nie. Elke nuwe projek het dan ook nuwe agente en so gaan die piramiede proses voort.

Word vervolg

Groete tot volgende keer

CA GROBLER
ngrobler@mweb.co.za

Die Afgetrede Teiken (1 Perfekte Prooi)

INLEIDING
Suid-Afrika is steeds die land van sonskyn en geleenthede. Inflasie, voordurende verswakking van die rand en die algemene verhoging van lewenskostes maak ons Afrikaners meer vatbaar vir uitbuiting.
Buitelandse beleggings is vandag meer aanloklik as voorheen. Die misdadiger in sy netjiese pak klere en perfekte maniere weet dit ook en is daagliks opsoek na ‘n nuwe prooi. Ons goue jare mense is grootliks die teiken. Die aftree geldjies is net nie genoeg nie en die aanvanklike belegging se opbrengste skiet tekort.
Gelukkig het u ‘n vriend wat iemand ken wat ‘n geleerde man is wat die oplossing het.
Die belegging wat hy doen sal u R 100 000.00 na R 200 000.00 binne 12 maande verhoog en dit terwyl u ‘n inkomste verdien.

Ek hoop die skemas wat ek hier verduidelik sal u ‘n tweede keer laat dink.


                                                            Die Perfekte Prooi
1.1 Opvoeding
Ons Suid-Afrikaners se opvoeding is goed, te goed. Meer spesifiek is dit ‘n sekere generasie van Afrikaners. Die mense wat in die goeie ou dae nog kinders was. Die kinders nader nou aftrede.
Ons ouers het ons geleer dat mense wat tien jaar ouer as ons is, ‘n oom en tante is.
Indien ‘n dame of ‘n ouer persoon ‘n vertrek binnekom of op die bus klim sal ons opstaan.
‘n Dominee, onderwyser of polisieman ens is mense wat gerespekteer moet word en is geroepe mense.
Verder is prokureurs, ouditeurs ens geleerde mense en kan hulle onvoorwaardelik vertrou word.
Hulle is egter ook mense wat dieselfde opvoeding gehad het met dieselfde verwysingsraamwerk en kan ook die prooi word van die witboordjiemisdadiger.
Die geleerde vriend kom dan met die voorstel van die hoë opbrengste belegging en min wetende dat hy self ‘n slagoffer is word ons ook by die bedrogskema betrek.

1.2 Vrees en Gierigheid
Die bedriëer maak ‘n studie van ons mensdom en weet dat vrees en gierigheid sy beste wapen in sy arsenaal teen die oningeligde prooi is.
Vrees is in baie gevalle die oorsaak van ons elende. Ons vrees dat hierdie hoë opbrengste belegging wel bestaan en dat ons gaan uitmis op hierdie geleentheid.
Ons vrees verder dat hierdie vriend wat al sy bloedgeld in hierdie skema belê het sal dink dat ons hom nie vertrou nie. En goeie vriende is skaars en die vriendskap moet beskerm word.
Gierigheid in die sin dat ons reeds die geld in ons gedagtes uitgegee het wat ons met hierdie goeie belegging gaan verdien. Dit gaan ons die finansiële vryheid gee waaroor ons al die jare wat ons gewerk het van gedroom het.

  
1.3 Die slagoffer
Deur die jare heen het ons hard gewerk. Die kinders is uit die huis uit en die tyd het aangebreek dat ons die goue jare kan geniet. Die huis of die eenheid by die afree oord is klaar betaal en die res van die geld is belê. Dit is net jammer dat skere makelaars wat die aanvanklike belegging gedoen het net aan een persoon en sy kommissie gedink het toe hy die belegging gemaak het.
Nadat hy sy kommissie ontvang het hoor ons nooit weer van hom nie of nog slegter hy skakel so een keer per jaar gewoonlik net voor die einde van die jaar om ons belegging wat nie so goed presteer nie te skuif. Ons glo dit weer want dit is in ons natuur om dit te glo en die verskuiwing vind plaas. Die makelaar is dankbaar want hy het weer sy kommisssie met die verskuiwing verdien.
Die makelaar word onvoorwaardelik vertrou want hy is dan so ‘n goeie Afrikaanse seun met die skoon en oop gesig en het die perfekte maniere.
Ongelukkig het my aanvanklike belegging na aftrede reeds 30 % van sy waarde verloor. Die heffing van my wooneenheid styg ook jaarliks tesame met die ander lewenskostes.
Die geld wat ons voorheen gehad het vir luukshede gaan nou hoofsaaklik vir die stygende mediese kostes.
Ek het nooit geweet ek gaan so baie medikasie nodig hê op my oudag nie.
Dan het my kinders ook van tyd tot tyd so ‘n klein leninkie nodig. Hoop maar hulle sal kan terugbetaal as dit eers weer beter gaan. Neem die kinders ook nie kwalik nie want kyk wat is skole se jaarlikse fooie nou al en die kleinkinders bring tog so baie plesier. Al wat ons hulle tog kan gee is ‘n oormaat liefde en ‘n goeie opvoeding. Veral in die nuwe Suid-Afrika kan ‘n mens alles van hulle wegneem maar nooit hulle opvoeding nie.

Die witboordjie misdadiger weet presies wat u omstandighede is want hy het ‘n studie daarvan gemaak.
Hy weet dat die afgetrede persoon maandeliks verarm. Hy weet ook dit is die afgetrede persoon wat ‘n groot bedrag kontant beskikbaar het. Jong mense het net nie die groot bedrae kontant om te belê nie.
Die suksesvolle jong sakeman sal ook nie belê nie want hy investeer weer sy geld terug in sy besigheid waar hy sy eie opbrengste bepaal. Hy weet ook dat baie van ons ou mense wat nie professionele mense was nie waarskynlik nog nooit van ‘n prokureur of ouditeur se dienste gebruik gemaak het nie en ook nie nou gaan begin nie. Verder leef ons in die paket era.
Die belegging wat hierdie finansiële adviseur voorstel is juis daarop gemik om al bogenoemde frustasies op te los.

U is nou ryp om gepluk te word.


Word vervolg

Groete  tot volgende keer

CA GROBLER
Neels@vdberglaw.co.za

Bekendstelling

Goeie more my volkie,
Ek het besluit om hierdie artikels te plaas vir my mense. Deur die jare het ek soveel mense sien swaar kry as gevolg van oningeligte besluite en omdat dit in ons menswees, as Afrikaner, is om maklik te vertrou.
Dit is dus my hoop om deur hierdie artikels dan ons sommige verliese en tragedies voorkom. Ek hoop dat hierdie artikels 'n waardevolle bydrae tot u lewens kan lewer en verwelkom enige vrae en kommentaar.
Vriendelike Groete,
C.A. Grobler