Monday 14 November 2011

Sharemax

Ons volg Sharemax se agteruitgang sedert die Zambezi en die Villa sage begin het. Sharemax het goed gedoen en die kliente het vir jare hulle rente inkomste uit die gesindikeerde winkel sentrums ontvang.

Die groot verskil met die eerste sindikasies was dat sharemax net winkel sentrums aangekoop het wat reeds vir jare bestaan het met die regte mengsel van anker huurders. Die belegger het nie werklik in die gebou bele nie maar wel in die inkomste stroom vanaf die huurgeld.

Die beginsel is goed as die risikos nie te ver vooruit verdiskonteer word nie. En soos enige eiendom belegging is 5(vyf) jaar die tydperk waarna ‘n mens moet kyk as daar bele word. Sommige eiendom sindikasie maatskappye het sogenaamde voorsorg fondse ingebou maar dan word die risiko vergroot in so ‘n mate dat die termyn van 5(vyf) jaar nie meer genoeg is om groei te toon nie.

Sodra die sentrum ten volle gesindikeer is word die aandele oorgedra en die aandeelhouers is die nuwe eienaar van die sentrum.Dit is belangrik om daarop te let dat die sentrum inderdaad deur die nuwe aandeelhouers besit word en Sharemax net die bestuur van die gebou doen.

Met ander woorde die aandeelhouers kan ‘n nuwe direksie vir die sentrum aanstel sowel as ‘n nuwe huurbestuur. Mense dink foutiewelik dit is sharemax se gebou , die gebou behoort aan die aandeelhouers.

Die vraag wat ons moet vra hoekom is daar van ‘n wenresep afgewyk ?

Is dit Ego wat gestreel moes word van die direksie ?

Gulsigheid ?

Hoekom begin bou en waagkapitaal gebruik. Die meeste beleggers is pensionarisse wat afhanklik is van ‘n maandelikse inkomste, waar sal die inkomste vandaan kom terwyl daar gebou word ?

Word Pieter se geld gebruik om Paul te betaal ?

Ongelukkig is daar te veel vrae en geen antwoorde nie .
Die beslissing van die fais Ombud in die saak teen Barnes teen D Risk Insurance Consultants gaan verrykende gevolge vir die makelaars inhou.

Die makelaar in bogenoemde saak is bevel om die belegger se geld terug te betaal. Ek vermoed daar is baie makelaars wat glad nie meer slaap na hierdie beslissing nie.
Dit sal hopelik die makelaars in die toekoms twee keer laat dink voordat hulle net kommissie aangedrewe beleggings maak.

Groete tot volgende keer

CA GROBLER
Neels@vdberglaw.co.za

Monday 7 November 2011

Mediese rekeninge en Skuldinvorderaars

Tyd om weer met my mense te raas. Mediese rekeninge is aan die orde van die dag, en daar is altyd daardie ekstra rekening wat opdaag 3(drie) maande nadat  ons die hospitaal verlaat het. Die persoon sal u ook in kennis stel dat die mediese fonds reeds die hospitaal rekening betaal het maar dat hierdie ekstra R 217.80 nie deur die medies gedek is nie en dat u verantwoordelik vir hierdie rekening is. Die rekening kan wissel van ‘n mediese dokter tot medikasie wat in die hospitaal aan u uitgereik is.

Indien die rekening van die dokter of die hospitaal direk is gee maar liefs aandag aan die rekening maar as die volgende meer bekend klink stel maar eers ondersoek in.
‘n Finale aanmaning word aan u gestuur van ‘n invorderings maatskappy af wat u meedeel dat hierdie bedrag reeds 90(negentig) dae agterstallig is en as u nie verdere regs aksies teen u en u goeie naam wil he nie moet die bedrag onmiddelik vereffen word.

Bankbesonderhede word in dieselfde aanmaning verskaf en omdat ons nie geswartlys wil word nie betaal ons dadelik hierdie rekening. Gelukkig is dit net R 217.80 en nie duisende rande nie.Moet ons nie eerder die vraag vra, hoekom is hierdie die finale aanmaning en wat het van die eerste aanmaning geword nie ?

Die rede hiervoor is bedrog aan die kant van die invorderaar !!!
Daar is misdadigers wat die registers van die hospitale bekom en vir pasiente wat onlangs ontslaan is fiktiewe rekeninge stuur. Hulle is ook slim genoeg om nie te groot bedrag te vra nie maar ‘n redelike bekostigbare bedrag.Hulle stuur nie vir een persoon ‘n rekening vir duisende nie maar vir duisende mense klein rekenings en op die manier steel hulle miljoene rande.  Ons vrees vir hofsake en vrees vir ons goeie naam maak dat ons eerder betaal.

Onthou dat slegs ‘n prokureur kan invorderings koste by die bedrag wat u verskuldig is bysit. Geen invorderaar kan kostes hef nie en oortree artikel 60(1) van die Wet op Landroshowe  en as hy hom as ‘n prokureur voorgedoen het om skuld te vorder aan artikel 83 (1) van die Wet op Prokureurs.

Vra die persoon of hy ‘n prokureur is en of hy bewus is daarvan dat hy die wet oortree indien hy enige regskostes hef van die skuldenaar as hy nie ‘n prokureur is nie. Uit ondervinding het ek gevind dat my kliente nooit weer ‘n oproep van die invorderaar sal kry nie.

Daar is ‘n Raad vir skulkinvorderaars en word gereguleer deur Wet 114 van 1998. Die invorderaar mag u nooit dreig nie, hy mag u ook nie beledig om u van wanbesteding te beskuldig nie.Indien u regshulp inwin mag hy daarna ook nie weer direk met u kontak maak nie maar moet deur u regsverteenwoordiger werk.

Groete tot volgende keer.

CA GROBLER
neels@vdberglaw.co.za