Showing posts with label Neels Grobler. Show all posts
Showing posts with label Neels Grobler. Show all posts

Thursday, 15 December 2011

Likwidasie, Sharemax of PicVest

Verskeie dreigemente van likwidasie aansoeke  is op baie aandeelhouers van Sharemax en PicVest se lippe. Die beleggers het hoofsaaklik in ‘n inkomste produk belê, en is afhanklik van die maandelikse inkomste uit hierdie sindikasie beleggings.

Ons is ook bewus daarvan dat beide hierdie twee skemas alle pogings aanwend om likwidasie te vermy, en ek dink ons moet vir ‘n oomblik stilstaan en vra hoekom.
Ek dink ons moet eers die likwidasie proses verstaan voordat ons bogenoemde vraag probeer beantwoord.

‘n Likwidateur of prokureur het net een belegger nodig om ‘n aansoek te loods teen ‘n spesifieke sindikasie. Die aansoek word ingedien en die sindikasie wat in ‘n spesifieke regsentiteit is kry die geleentheid om die aansoek teen te staan.

So die aansoek is nie teen Sharemax of PicVest gerig nie maar teen die maatskappy waaring die gebou gesindikeer is.Sharemax en PicVest was slegs die fasiliteerdeer en besit nie aandele in die gebou en of die regsentiteit waarin die sindikasie plaasgevind het nie.

Mense dink verkeerdelik dat hulle by Sharemax of Picvest geld belê het.
Die belegger het direk in ‘n spesifieke maatskappy belê wat ‘n afsonderlike regsentiteit is van Sharemax of PicVest.Die prospektus sal ook aandui dat hulle slegs die promoter was van die sindikasie.

Die meeste van die geboue se waarde is minder as die bedrag waarvoor die sindikasie waarde was. Maar met goenoeg tyd toegelaat sal die geboue onder die regte bestuur wel kapitaal groei bereik.Onthou die belegging was geskoei op die inkomste stroom van die sentrum en nie die baksteen waarde nie.

As gevolg van die ekonomie het huurders ook begin swaarkry en sukkel om die huur te betaal.Indien ‘n likwidasie aansoek suksesvol is, word daar na die baksteenwaarde gekyk en die beleggers gaan verloor. Die enigste persone wat werklik geld gaan maak met die likwidasie is die likwidateurs.

As ons kyk na vorige groot skemas wat gelikwideer was en ons kyk wat die likwidasie kostes daaraan verbonde was, is dit skrikwekkend.Tydens die likwidasie word skuldeisers vergaderings gehou waar u, die eis teen die maatskappy moet bewys.
Onthou dat Sars is ook ‘n skuldeiser.

In sommige gevalle is beleggers gevra om die inkomste wat hulle uit die belegging verdien het, terug te betaal aan die likwidateurs.Etlike miljoene word deur die likwidateurs ingewin maar baie min word uitbetaal.

Onthou my vriende die gebou is huidiglik in ‘n maatskappy wat deur u besit word, en kan u die direksie sowel as die bestuur van die gebou verander.
Sterkte met u beleggings

Groete tot volgende keer

CA GROBLER
neels@vdberglaw.co.za

Monday, 5 December 2011

Vakansieklubs en Tyddeel

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat dae getel word voordat ons die kantoor en werks mense agterlaat om te gaan rus, ooreet en meer geld te spandeer as wat ons normaalweg sou.

Selfs die suinigste van ons wat enige ander tyd van die jaar eers kyk wat kos ‘n sakkie sekelbos hout sal nou net stop en se “ Laai 10 sakkies op “ want braai gaan ons mos braai".

Maar ongelukkig is daar ook bemarkers wat nie kan wag vir ons gesindheid in Desember maande nie en die enigste ding wat soeter is as ‘n Desember waatlemoen is hulle bemarkings tegnieke
.
Gesoute , beproefde en vervolmaakte tegnieke.

Selfs op ons strande word ons voorgekeer en ‘n gratis ete kaartjie aangebied as ons net die bekendstelling sal kom bywoon. Of meneer jy het reeds een van drie pryse gewen, ‘n Televisie, Rekenaar of ‘n gratis vakansie al wat u moet doen is om op hierdie dag teen ‘n spesifieke tyd op te daag en u prys te kom opeis.

En nee meneer dit is nie tyddeel nie, ons verkoop nie tyddeel nie. Die naam tyddeel is uitgedien en hulle weet ons is negatief daaroor, so kom ons noem dit iets anders en siedaar vakansie klubs is gebore !

Die groot verskil tussen tyddeel en vakansie klubs is dat op vakansie klubs word net punte verkoop en nie ‘n gedeelte van die eiendom nie.Die punte word dan met ‘n uitruilskema beheer waar ons ‘n sekere aantal punte nodig het om by ‘n sekere plek op ‘n gegewe tydstip in die jaar kan Gratis vakansie gaan hou.

Die probleme wat egter in die laaste tyd hiermee vereenselwig word is dat daar nie altyd genoeg eiendom is om die punte te dek nie.Dit is vir ons nie almal moontlik om reeds ‘n jaar vooruit te bespreek nie en vir die persoon wat te laat skakel is die beskikbare vakansie plekke reeds volgeboek.

Dan die grootste probleem is die administratiewe heffings wat gevra word. Hierdie heffings beloop meer kostes per jaar as wat ons sou betaal het vir die verblyf as ons direk bespreek en betaal het.

Ek kan hierdie aankoop van punte ook met ‘n huwelik vergelyk. Spesifiek ‘n huwelik tussen pikkewyne aangesien ‘n pikkewyn net een lewensmaat kies vir die res van sy lewe. So meneer of mevrou sodra die transaksie beklink is woon gerus u vriendelike landros kantoor by en bevestig hierdie huwelik want die punte en die heffings is vir altyd.

Ek het verskeie vriende wat hulle punte met liefde aan u gratis sal skenk want eerstens kry hulle dit nie verkoop nie, of gratis weggee nie. Hulle kan dit ook nie kanselleer nie want hulle bly steeds vir die heffings verantwoordelik.

So aan al my Pikkewyne geniet hierdie Desember vakansie.

Groete tot volgende keer.

CA Grobler
neels@vdberglaw.co.za

Monday, 14 November 2011

Sharemax

Ons volg Sharemax se agteruitgang sedert die Zambezi en die Villa sage begin het. Sharemax het goed gedoen en die kliente het vir jare hulle rente inkomste uit die gesindikeerde winkel sentrums ontvang.

Die groot verskil met die eerste sindikasies was dat sharemax net winkel sentrums aangekoop het wat reeds vir jare bestaan het met die regte mengsel van anker huurders. Die belegger het nie werklik in die gebou bele nie maar wel in die inkomste stroom vanaf die huurgeld.

Die beginsel is goed as die risikos nie te ver vooruit verdiskonteer word nie. En soos enige eiendom belegging is 5(vyf) jaar die tydperk waarna ‘n mens moet kyk as daar bele word. Sommige eiendom sindikasie maatskappye het sogenaamde voorsorg fondse ingebou maar dan word die risiko vergroot in so ‘n mate dat die termyn van 5(vyf) jaar nie meer genoeg is om groei te toon nie.

Sodra die sentrum ten volle gesindikeer is word die aandele oorgedra en die aandeelhouers is die nuwe eienaar van die sentrum.Dit is belangrik om daarop te let dat die sentrum inderdaad deur die nuwe aandeelhouers besit word en Sharemax net die bestuur van die gebou doen.

Met ander woorde die aandeelhouers kan ‘n nuwe direksie vir die sentrum aanstel sowel as ‘n nuwe huurbestuur. Mense dink foutiewelik dit is sharemax se gebou , die gebou behoort aan die aandeelhouers.

Die vraag wat ons moet vra hoekom is daar van ‘n wenresep afgewyk ?

Is dit Ego wat gestreel moes word van die direksie ?

Gulsigheid ?

Hoekom begin bou en waagkapitaal gebruik. Die meeste beleggers is pensionarisse wat afhanklik is van ‘n maandelikse inkomste, waar sal die inkomste vandaan kom terwyl daar gebou word ?

Word Pieter se geld gebruik om Paul te betaal ?

Ongelukkig is daar te veel vrae en geen antwoorde nie .
Die beslissing van die fais Ombud in die saak teen Barnes teen D Risk Insurance Consultants gaan verrykende gevolge vir die makelaars inhou.

Die makelaar in bogenoemde saak is bevel om die belegger se geld terug te betaal. Ek vermoed daar is baie makelaars wat glad nie meer slaap na hierdie beslissing nie.
Dit sal hopelik die makelaars in die toekoms twee keer laat dink voordat hulle net kommissie aangedrewe beleggings maak.

Groete tot volgende keer

CA GROBLER
Neels@vdberglaw.co.za

Monday, 7 November 2011

Mediese rekeninge en Skuldinvorderaars

Tyd om weer met my mense te raas. Mediese rekeninge is aan die orde van die dag, en daar is altyd daardie ekstra rekening wat opdaag 3(drie) maande nadat  ons die hospitaal verlaat het. Die persoon sal u ook in kennis stel dat die mediese fonds reeds die hospitaal rekening betaal het maar dat hierdie ekstra R 217.80 nie deur die medies gedek is nie en dat u verantwoordelik vir hierdie rekening is. Die rekening kan wissel van ‘n mediese dokter tot medikasie wat in die hospitaal aan u uitgereik is.

Indien die rekening van die dokter of die hospitaal direk is gee maar liefs aandag aan die rekening maar as die volgende meer bekend klink stel maar eers ondersoek in.
‘n Finale aanmaning word aan u gestuur van ‘n invorderings maatskappy af wat u meedeel dat hierdie bedrag reeds 90(negentig) dae agterstallig is en as u nie verdere regs aksies teen u en u goeie naam wil he nie moet die bedrag onmiddelik vereffen word.

Bankbesonderhede word in dieselfde aanmaning verskaf en omdat ons nie geswartlys wil word nie betaal ons dadelik hierdie rekening. Gelukkig is dit net R 217.80 en nie duisende rande nie.Moet ons nie eerder die vraag vra, hoekom is hierdie die finale aanmaning en wat het van die eerste aanmaning geword nie ?

Die rede hiervoor is bedrog aan die kant van die invorderaar !!!
Daar is misdadigers wat die registers van die hospitale bekom en vir pasiente wat onlangs ontslaan is fiktiewe rekeninge stuur. Hulle is ook slim genoeg om nie te groot bedrag te vra nie maar ‘n redelike bekostigbare bedrag.Hulle stuur nie vir een persoon ‘n rekening vir duisende nie maar vir duisende mense klein rekenings en op die manier steel hulle miljoene rande.  Ons vrees vir hofsake en vrees vir ons goeie naam maak dat ons eerder betaal.

Onthou dat slegs ‘n prokureur kan invorderings koste by die bedrag wat u verskuldig is bysit. Geen invorderaar kan kostes hef nie en oortree artikel 60(1) van die Wet op Landroshowe  en as hy hom as ‘n prokureur voorgedoen het om skuld te vorder aan artikel 83 (1) van die Wet op Prokureurs.

Vra die persoon of hy ‘n prokureur is en of hy bewus is daarvan dat hy die wet oortree indien hy enige regskostes hef van die skuldenaar as hy nie ‘n prokureur is nie. Uit ondervinding het ek gevind dat my kliente nooit weer ‘n oproep van die invorderaar sal kry nie.

Daar is ‘n Raad vir skulkinvorderaars en word gereguleer deur Wet 114 van 1998. Die invorderaar mag u nooit dreig nie, hy mag u ook nie beledig om u van wanbesteding te beskuldig nie.Indien u regshulp inwin mag hy daarna ook nie weer direk met u kontak maak nie maar moet deur u regsverteenwoordiger werk.

Groete tot volgende keer.

CA GROBLER
neels@vdberglaw.co.za

Thursday, 27 October 2011

Die Hof vir Klein Eise

Hierdie is ‘n regsinstrument wat meer aangewend behoort te word deur elke individu wat ‘n siviele eis onder R 12 000.00 het. Vir die persoon wat nie deel is van die regslui nie,  is enige hofprosedures meer ‘n afskrikmiddel as ‘n regsremedie.  Ek hoop hierdie artikel sal die proses vir u meer eenvoudig maak.

Wie mag ‘n eis instel ?
Enige individu maar geen maatskappy, beslote korporasie of enige ander regsentiteit nie.

Teen wie mag die eis ingestel word ?
Behalwe teen die staat mag enige siviele eis onder die bedrag van R 12 000.00 ingestel word teen maatskappye, beslote korporasies en selfs munisipaliteite.
Egskeiding kan nie deur hierdie hof aangehoor word nie.

Prosedure:
Eerstens moet ‘n skriftelike aanmaning aan die teenparty gestuur word en dit is beter om dit per geregistreerde pos te stuur of persoonlik af te gee met ‘n ontvangserkenning.
In hierdie aanmaning moet die gronde vir die eis behoorlik verduidelik word.

Die teenparty het 14 dae om te reageer en verweer aan te teken.
Na die 14 dae moet gerapporteer word aan die klerk van die Klein Eise Hof in persoon met die bewyse, asook die bewys van aflewering. Die klerk sal ‘n hofdatum bepaal vir die aanhoor van beide partye se weergawes.

Die klerk sal jou ook behulpsaam wees om ‘n dagvaardiging uit te reik teen die ander party. Die dagvaardiging moet op die persoon beteken word. Indien u dit nie self wil doen nie,  kan die balju gevra word maar daar is kostes vir die betekening wat u sal moet betaal.Stel jou getuies in kennis van die verhoordatum en kry jou bewyse reg vir die bepaalde hofdatum.

Indien die teenparty aan jou eise voldoen voor die verhoordatum,  stel die klerk van die hof in kennis sodat u nie die hof se tyd mors nie.
Die verhoor word aangehoor deur ‘n kommissaris en nie ‘n landros of magistraat nie. Die kommissaris is normaalweg ‘n prokureur.

Geen prokureur mag u of die ander party verteenwoordig nie. Geen kruisondervraging vind plaas nie en slegs die kommissaris het die reg om vrae te vra en sal sy besluit daarvolgens maak.

Die kommissaris se besluit is finaal en geen appèl word toegelaat nie. Indien die teenparty nie onmiddelik na die beslissing kan betaal nie, sal sy finansiële posisie deur die hof ondersoek word en betalingreëlings sal met hom getref word.

Hierdie is ‘n eenvoudige proses sonder enige regstaal of Latyn of hoog Engels, en is ontwerp vir die algemene man op straat.
So gebruik dit.

Groete tot volgende keer

CA GROBLER
Neels@vdberglaw.co.za

Thursday, 13 October 2011

Die Afgetrede Teiken (3 Die Wet)

3. Die wet
Die misdadigers word normaalweg vir ‘n gemenskaplike misdryf bedrog aangekla tesame met artikel 11 van die bankwet.
Die klagtes van bedrog val normaalweg weg en slegs die klagte van die oortreding van die bankwet bly staan. Die rede hiervoor is dat dit nie prakties uitvoerbaar is om die persone vir bedrog aan te kla nie. Elke bedrog klagte moet individueel en afsonderlik bo redelike twyfel deur die staat bewys word.
Dit beteken dat dag, datum tyd en plek van voorval bewys moet word en alle betrokke persone wat deel was van die spesifike transaksie moet daaroor getuig. Dit beteken die belegger, die agent wat hom genader het en enige oogetuies wat die transaksie gesien het. Verder moet die dokumentasie wat in die transaksie beteken is voor die hof bewys word asook bewys dat daar werklik geld oorbetaal is vanaf die slagoffer na die instansie. Al hierdie dokumentasie kan betwis word. Al hierdie prosedures moet gevolg word in elke transaksie waarvoor die beskuldigde aangekla word. In die meeste gevalle is daar duisende beleggers betrokke. Wat beteken dat duisende mense in die hofsaak moet getuig. En na die getuienis afgele is het die verdediging natuurlik die reg tot kruisondervraging. Met ander woorde al kan selfs 2 getuies per dag getuig en gekruisondervra word sal ‘n saak soos krion, gaius ens jare duur om net die mondelikse getuienis af te handel.
Dus word die persone vir artikel 11 van die bankwet aangekla. Dit is ‘n statutere oortreding wat enige persoon verbied om as ‘n bank handel te dryf sonder om as ‘n bank geregistreer te wees. Vir vonnis oplegging word die klagtes normaalweg saamgelees as een klagte. Die maksimum vonnis vir ‘n oortreding van die bankwet is 5 jaar gevangenisstraf.
So as die misdadiger R 500 miljoen kan steel en 5 jaar gevangenisstraf daarvoor uitdien is dit vir hom steeds ‘n goeie besigheid.
                                
  
4. Die Polisie
Die Suid afrikaanse polisie diens en meer spesifiek die handelsmisdaadeenheid hanteer en ondersoek witboordjie misdade. Die polisie kan egter slegs optree nadat ‘n misdryf gepleeg is en hulle inligting onder eed ontvang het. In hierdie stadium het die belegger ongelukkig reeds sy geld verloor en sal dit hom nie terug sit in die finansiële posisie wat hy was voor hy die belegging gedoen het nie.

5. Wenke vir goeie beleggings
Hiedie wenke is nie ‘n aanduiding waarin om te belê nie maar eerder waarna om op die uitkyk te wees voor u die belegging gedoen het.
1. Indien die agent op kontant aandring wees versigtig.
2. Indien u buitensporige opbrengste aangebied word.
3. Indien die kontrak ‘n samerwerkings ooreenkoms is.
4. Indien die kontrak slegs na die agent en nie na die maatskappy verwys nie.
5. Indien die maatskapy se naam of registrasie nommer of die name van die direkteure nie op die kontrak    voorkom nie.
6. Indien daar nie ‘n prospektus is wat geregistreer is nie.
7. Indien die agent kriewilrig is as u die egtheid van die dokumentasie wil verivieer.
8. Indien die agent wil he u moet ‘n onmiddelike besluit neem aangesien dit slegs vir ‘n paar mense plek is om aan deel te neem.
9. Indien u ‘n nie openbaarmakings dokument moet teken
10. Indien die agent vaag is op welke wyse die maatskappy sy geld verdien

6. Slotsom
Ek wil dit weereens beklemtoon dat alle finansiele adviseurs,. Bemarkers of makelaars nie oneerlik is of daarop uit is om u te bedrieg nie. In die meeste gevalle sal die persone in u belang optree solank ons net weet daar is witboordjie misdadigers daarbuite wat ‘n studie van u omstandighede maak en presies weet hoe om sy slagoffer te benader en uit te buit.
Geniet u goue jare !!



Groete tot volgende keer

CA Grobler
Neels@vdberglaw.co.za

Bekendstelling

Goeie more my volkie,
Ek het besluit om hierdie artikels te plaas vir my mense. Deur die jare het ek soveel mense sien swaar kry as gevolg van oningeligte besluite en omdat dit in ons menswees, as Afrikaner, is om maklik te vertrou.
Dit is dus my hoop om deur hierdie artikels dan ons sommige verliese en tragedies voorkom. Ek hoop dat hierdie artikels 'n waardevolle bydrae tot u lewens kan lewer en verwelkom enige vrae en kommentaar.
Vriendelike Groete,
C.A. Grobler