Thursday 13 October 2011

Die Afgetrede Teiken (1 Perfekte Prooi)

INLEIDING
Suid-Afrika is steeds die land van sonskyn en geleenthede. Inflasie, voordurende verswakking van die rand en die algemene verhoging van lewenskostes maak ons Afrikaners meer vatbaar vir uitbuiting.
Buitelandse beleggings is vandag meer aanloklik as voorheen. Die misdadiger in sy netjiese pak klere en perfekte maniere weet dit ook en is daagliks opsoek na ‘n nuwe prooi. Ons goue jare mense is grootliks die teiken. Die aftree geldjies is net nie genoeg nie en die aanvanklike belegging se opbrengste skiet tekort.
Gelukkig het u ‘n vriend wat iemand ken wat ‘n geleerde man is wat die oplossing het.
Die belegging wat hy doen sal u R 100 000.00 na R 200 000.00 binne 12 maande verhoog en dit terwyl u ‘n inkomste verdien.

Ek hoop die skemas wat ek hier verduidelik sal u ‘n tweede keer laat dink.


                                                            Die Perfekte Prooi
1.1 Opvoeding
Ons Suid-Afrikaners se opvoeding is goed, te goed. Meer spesifiek is dit ‘n sekere generasie van Afrikaners. Die mense wat in die goeie ou dae nog kinders was. Die kinders nader nou aftrede.
Ons ouers het ons geleer dat mense wat tien jaar ouer as ons is, ‘n oom en tante is.
Indien ‘n dame of ‘n ouer persoon ‘n vertrek binnekom of op die bus klim sal ons opstaan.
‘n Dominee, onderwyser of polisieman ens is mense wat gerespekteer moet word en is geroepe mense.
Verder is prokureurs, ouditeurs ens geleerde mense en kan hulle onvoorwaardelik vertrou word.
Hulle is egter ook mense wat dieselfde opvoeding gehad het met dieselfde verwysingsraamwerk en kan ook die prooi word van die witboordjiemisdadiger.
Die geleerde vriend kom dan met die voorstel van die hoë opbrengste belegging en min wetende dat hy self ‘n slagoffer is word ons ook by die bedrogskema betrek.

1.2 Vrees en Gierigheid
Die bedriëer maak ‘n studie van ons mensdom en weet dat vrees en gierigheid sy beste wapen in sy arsenaal teen die oningeligde prooi is.
Vrees is in baie gevalle die oorsaak van ons elende. Ons vrees dat hierdie hoë opbrengste belegging wel bestaan en dat ons gaan uitmis op hierdie geleentheid.
Ons vrees verder dat hierdie vriend wat al sy bloedgeld in hierdie skema belê het sal dink dat ons hom nie vertrou nie. En goeie vriende is skaars en die vriendskap moet beskerm word.
Gierigheid in die sin dat ons reeds die geld in ons gedagtes uitgegee het wat ons met hierdie goeie belegging gaan verdien. Dit gaan ons die finansiële vryheid gee waaroor ons al die jare wat ons gewerk het van gedroom het.

  
1.3 Die slagoffer
Deur die jare heen het ons hard gewerk. Die kinders is uit die huis uit en die tyd het aangebreek dat ons die goue jare kan geniet. Die huis of die eenheid by die afree oord is klaar betaal en die res van die geld is belê. Dit is net jammer dat skere makelaars wat die aanvanklike belegging gedoen het net aan een persoon en sy kommissie gedink het toe hy die belegging gemaak het.
Nadat hy sy kommissie ontvang het hoor ons nooit weer van hom nie of nog slegter hy skakel so een keer per jaar gewoonlik net voor die einde van die jaar om ons belegging wat nie so goed presteer nie te skuif. Ons glo dit weer want dit is in ons natuur om dit te glo en die verskuiwing vind plaas. Die makelaar is dankbaar want hy het weer sy kommisssie met die verskuiwing verdien.
Die makelaar word onvoorwaardelik vertrou want hy is dan so ‘n goeie Afrikaanse seun met die skoon en oop gesig en het die perfekte maniere.
Ongelukkig het my aanvanklike belegging na aftrede reeds 30 % van sy waarde verloor. Die heffing van my wooneenheid styg ook jaarliks tesame met die ander lewenskostes.
Die geld wat ons voorheen gehad het vir luukshede gaan nou hoofsaaklik vir die stygende mediese kostes.
Ek het nooit geweet ek gaan so baie medikasie nodig hê op my oudag nie.
Dan het my kinders ook van tyd tot tyd so ‘n klein leninkie nodig. Hoop maar hulle sal kan terugbetaal as dit eers weer beter gaan. Neem die kinders ook nie kwalik nie want kyk wat is skole se jaarlikse fooie nou al en die kleinkinders bring tog so baie plesier. Al wat ons hulle tog kan gee is ‘n oormaat liefde en ‘n goeie opvoeding. Veral in die nuwe Suid-Afrika kan ‘n mens alles van hulle wegneem maar nooit hulle opvoeding nie.

Die witboordjie misdadiger weet presies wat u omstandighede is want hy het ‘n studie daarvan gemaak.
Hy weet dat die afgetrede persoon maandeliks verarm. Hy weet ook dit is die afgetrede persoon wat ‘n groot bedrag kontant beskikbaar het. Jong mense het net nie die groot bedrae kontant om te belê nie.
Die suksesvolle jong sakeman sal ook nie belê nie want hy investeer weer sy geld terug in sy besigheid waar hy sy eie opbrengste bepaal. Hy weet ook dat baie van ons ou mense wat nie professionele mense was nie waarskynlik nog nooit van ‘n prokureur of ouditeur se dienste gebruik gemaak het nie en ook nie nou gaan begin nie. Verder leef ons in die paket era.
Die belegging wat hierdie finansiële adviseur voorstel is juis daarop gemik om al bogenoemde frustasies op te los.

U is nou ryp om gepluk te word.


Word vervolg

Groete  tot volgende keer

CA GROBLER
Neels@vdberglaw.co.za

No comments:

Post a Comment