Monday 24 October 2011

Nigerie 419

Hierdie skema is reeds meer as 12 jaar aan die gang en ek het nie gedink dit is nodig om weer daaroor te gesels nie maar nadat kliente van my ‘n maand gelede ingedoen is moet ons maar weer daaroor praat.

Twee van my kliente het ‘n skrywe per e-pos ontvang waarin hulle meegedeel is dat ‘n groep sakemanne in Nigerie sukkel om geld vanaf ‘n besigheids transaksie uit die land uit te kry.Indien hulle hiermee behulpsaam sou wees, sal 30% van     $ 60 000 000.00 aan hulle oorbetaal word. Wie sal nie $ 18 000 000.00 wil he nie. Miljoeners oornag  sonder om veel daarvoor te doen.

Hulle het telefonies met die Nigeriese burgers in aanraking gekom en kort daarna ‘n e-pos van The Central Bank of Nigeria ontvang wat die transaksie bevestig het.
Kort hierna het hulle na Lagos gevlieg waar hulle ingewag is deur die sakemanne wat hulle rondgewys het. Hulle het selfs bankamptenare ontmoet wat na bewering die skrywe aan hulle gestuur het.

Hulle is om geen geld gevra nie wat die transaksie meer geloofwaardig gemaak het. Die Nigeriers het wel vir hulle gese dat die transaksie met ses maande uitgestel gaan word aangesien daar regskostes is van $ 50 000.00 maar dat hulle nie verwag dat my kliente dit moet betaal nie.Die sakemanne het hulle versoek om terug te keer na Suid Afrika en te wag vir verdere instruksies.

My kliente het besluit dat hulle soveel geld gaan maak dat hulle die $ 50 000.00 sal betaal en het inderdaad die geld oorbetaal.So is ‘n verdere $ 5 000.00 versoek om aan die “Business Hubb”oor te betaal wat die transaksie sal fasiliteer in Mauritius.

Drie dae later is hulle versoek om die kliente in Mauritius te ontmoet waar hierdie transaksie gefinaliseer kan word.My kliente moes natuurlik vir almal se vliegtuigkaartjies betaal. Die Nigeriese burgers sou vir die hotel akkommodasie betaal. Die Nigeriers is reeds die woensdag deur Mauritius toe en my kliente het die vrydag gevlieg. Hulle het saam in dieselfde hotel gebly en die maandagoggend sou hulle na die business hub gaan soos die Nigeriers dit gestel het om die dokumentasie finaal te teken.

Die maandag oggend was daar geen teken van die Nigeriers nie en volgens die hotel het hulle reeds sondag aand teruggevlieg en die hotel rekening oop my kliente se naam geboek. Ter inligting die “Business Hub “ is ‘n wyse van spreke mense en nie ‘n fisiese gebou nie.

Gierigheid het natuurlik weer ‘n rol gespeel aangesien my een klient reeds ‘n nuwe Toyota Prado aangeskaf het en die ander klient ‘n nuwe huis wat hy nie kan beskostig nie gaan koop het met ‘n groot deposito want sien daar is miljoene oppad. Hulle het hierdie voertuig sowel as die huis verloor.Hulle totale verlies was R 700 000.00 sonder die voertuig en die huis.Hierdie skema begin altyd deur ‘n epos of faks wat u ontvang. Die skrywe is nooit aan u persoonlik gerig nie maar eerder aan die besturende direkteur, die President van die maatskappy ensovoorts.

U word vertel dat u hulp benodig word om geld uit Nigerie of ‘n ander Afrika land oor te plaas. Die persoon het normaalweg of geld geerf of is senior amptenaar van die regering of ‘n verteenwoordiger van ‘n instansie soos Die Nigerian National Petroleum Corporation wat geld wil oorplaas uit “The Central Bank of Nigeria “  die instansie is egter nie instaat om die geld oor te plaas sonder die hulp van ‘n buitelandse persoon nie. Dit is ook normaalweg geweldige bedrae soos $ 40 000 000.00. hulle beloof dan dat indien u behulpsaam sal wees sal die verdeling as volg wees. 70% vir hulle en 30 % vir u.

Hulle weet dat 30% van 40 miljoen dollar enige person se belangstelling sal prikkel. Die skrywe word ook spoedig opgevolg deur ‘n skrywe van The Central Bank of Nigeria af wat natuurlik hierdie transaksie bevestig.Die skrywes is ook altyd gemerk “urgent “ “confidential “ en u sal merk dat hierdie skrywes normaalweg vol spelfoute is.

Die outeur van die skrywes het ook in baie gevalle titels soos Dr, Chief, Barrister of prins of prinsses.Die slagoffer gee dan aan hierdie persone sy bank besonderhede asook kontak besonderhede. Hulle vra selfs ‘n skoon briefhoof aan sodat hulle kan vasstel of die maatskappy werklik bestaan.

Sommige mense wat Nigerie besoek het is daar as gyselaars aangehou en geld vir hulle Vryheid word geeis. In sommige gevalle is van die slagoffers daar vermoor.

Hierdie skema word wereldwys geken as Nigerie 419 aangesien all dade waar wanvoorstelling plaasvind onder artikel 419 van die Nigeriese wetgewing as bedrog verwys.

Indien enige van hierdie voorvalle gebeur DINK ASSEBLIEF VERDER

Groete tot volgende keer

CA GROBLER

Neels@vdberglaw.co.za

No comments:

Post a Comment