Thursday 13 October 2011

Die Afgetrede Teiken (2 Tipiese Skema's)

2.1 Die hoë opbrengste buitelandse belegging
‘n Goeie vriend nader u aangesien hy weet dat u ‘n geheim kan bewaar en stel jou voor aan sy finansiële adviseur.
Na ‘n bietjie oorreeding word u oorgehaal en ingelaat op die groot geheim wat die volgende behels:
Die transaksie staan bekend as
- Rol program
- High Yield program
- Bank secured trading program
- Currency trading program
Daar word verduidelik dat hierdie High Yield handel dryf in die volgende :
- World bank paper
- Federal reserve notes
- IMF issued notes
- Letters of credit
- Bank guarentees
- Medium term notes
Hoe dit werk :
Hulle kan vir u 300 % plus rente verdien in ‘n kort tydperk deurdat hulle bank waarborge aankoop en weer verkoop. Dit word ‘n program genoem en die program loop normaalweg veertig weke.
Daar word voorgehou dat banke aan mekaar geld veskuldig is deurdat verskillende banke se kliënte met mekaar handel dryf en sodoende word waarborge uitgeryk.
Hierdie bankwaarborge is dan ‘n verhandelbare dokument.
Verder word verduidelik dat die Amerikaanse Reserwe Bank hierdie transaksie goedkeur en reguleer sodat hulle ‘n monolopie op die dollar buite die VSA kan plaas.
U is nou natuurlik deel van ‘n geselekteerde groep mense en moet ‘n nie-openbaarmakingsdokument teken.
Hierdie transaksie is dan ook so geheim dat selfs die banke dit sal ontken.
U kapitaal word gewaarborg deur banke soos :
- Lloyds Bank
- Chase Manhatten
- Deutsche bank
U Kapitaal is natuurlik 100 % veilig en hulle het alreeds miljoene uit hierdie transaksies verdien. Die terminologie wat die mense gebruik sal slegs die professionele bankier verstaan en dit ontmoedig verdere vrae deur uself.
Hierdie is mos vooranstaande mense wat weet waarvan hulle praat.
Wanneer u om verwysings vrae word die nodige dokumentasie van die Federale Bank van die Verenigde State van Amerika, die Wereldbank en die Internasionale Monotêre Fonds aan u getoon.
Die dokumentasie is normaalweg van  hoogstaande gehalte maar as gevolg van die sensitiwiteit van die transaksie kan u nie die geldigheid van die dokument nagaan nie.
U geld is in elk geval so veilig dat die geld in u naam in ‘n bank gedeponeer word en ‘n waarborg en bewys van fondse word uitgereik deur een van die top vyftig banke in die wereld. Hulle sal altyd na die top vyftig banke in die wereld verwys en selfs aan u verduidelik dat Absa nommer 245 op die wereldranglys is. Absa is nie nommer 245 op die ranglys nie.
Dit is ook risiko vry deurdat die belegging deur die Internasionale Monotêre Fonds onderskryf word en ‘n IMF registrasie nommer sal aan u verskaf word.
Hierdie belegging sal ook u belastingprobleme oplos angesien hulle vir u ‘n buitelandse rekening sal oopmaak. Hierdie rekening is normaalweg in die Isle of Man, Jersey of Caman eilande.
Die opbrengste sal ook in hierdie rekening inbetaal word en u bekom ‘n kredietkaart waarmee u
R 5 000.00 per dag kan onttrek.
Die meeste persone maak dan wel vir u ‘n buitelandse rekening oop. Kort hierna ontvang u die kredietkaart vanaf die bank en dit is die finale oortuiging.
In sommige gevalle ontvang die belegger wat in hierdie skema belê selfs die eerste maand die
R 5 000.00 rente.
Baie selde die tweede maand en dan kom die verskonings en dan word daar aan u verduidelik dat die geld vanaf die buiteland moet inkom en dat dit tyd vat.
As u begin moeilik raak word u gewaarsku om versigtig te wees voordat u polisie toe gaan aangesien u die Wet op Divisebeheer oortree het.
Hierdie skema is so goed aanmekaar gesit dat ek ‘n paar voorbeelde wil noem van instansies wat deurgeloop het.
National Council of Churches $ 7.98 miljoen
City of Clovis VSA $ 3.5 miljoen
Bank of Bohemia $ 600 miljoen
Chicago Housing Program $ 12.5 miljoen

Die ware feite :
Banke gebruik wel bankwaarborge om betaling te verseker vir internasionale handel.
Hierdie bankwaarborge word egter NOOIT mee handel gedryf nie.
Die Internasionale Handelskamer maak reëls vir die manier waarop handel gedryf word in die
internasionale handelsektor.

Dit staan bekend as die UCP 500 maar dit stel geen finansiële instrumente daar om mee handel te dryf nie.
Verder sal hulle geen waarborge uitreik vir die handel in sulke instrumente nie.
Die IMF is ‘n interne goewerment organisasie wie se finansiële transaksies en operasies direk uitgevoer word deur sy lidlande en slegs deur ‘n genomineerde agent deur elke lidland vir hierdie spesifieke doeleindes. Byvoorbeeld die Minister van Finasies.
Die IMF dryf glad nie handel deur middel van privaat agente nie en nog minder endoseer hulle die bedrywighede van enige bank, instansie of individu nie.
Volgens die Internasionale Handelskamer se eenheid vir Handelsmisdaad beloop hierdie bedrog skema ongeveer $ 10 miljoen per dag en dit is slegs in Noord Amerika.
Hulle glo verder dat slegs ongeveer 10% van die gled wat jaarliks gesteel word aangemeld word.
Hierdie sake word ook selde by die Suid-Afrikaanse Polisie aangemeld vir hoofsaaklik twee redes.
Eerstens is die slagoffer bang hy het ‘n misdaad begaan deur die geld onwettig die land uit te neem en tweedens kan die slagoffer nie bekostig om te glo dat hierdie skema nie waar is nie.
Die realiteit dat hy alles verloor het is te groot. Hy sal eerder vasklou aan die bietjie hoop dat die geld wel eendag uitbetaal sal word.
Ek het ‘n Suid-Afrikaner in London ontmoet wat etlike miljoene rande belê het. Ek het hom ingelig dat die skema nie bestaan nie en het selfs aan hom die bewyse verskaf. Dokumentere bewysse dat hierdie skema nie bestaan nie is vrylik beskikbaar en word geadverteer op die internet.
Hy was onmiddelik vyandig en het verdere miljoene rande belê.


2.2 Krion
Krion Finasiële dienste was weereens bedryf onder die vaandel van kort termyn lenings aan die publiek.ook bekend as mikro leners. Daar is selfs na die besturende direkteur van die Krion groep verwys as ‘n engel wat die arm afrikaners help. Die gedagte dat korttermyn lenings aan die publiek gemaak word teen 30 % per maand en dan 10 % aan die belegger uitbetaal word klink geloofwaardig genoeg. Dit was egter weer net ‘n piramiede skema wat die beleggers in elende gedompel het. Soos voorheen reeds beskryf is dit juis die mense wat feitlik geen ander opsie het as om hoër opbrengste te gaan soek wat die prooi is vir die piramiede skemas. Dit is juis die mense wat nie die geld het om dit te verloor nie. Wat meer uitsonderlik was in die Krion geval was die feit dat daar meestal met kontant gewerk is. Dit behoort dadelik die rooi ligte te laat flikker. Met Krion is ‘n totale gemeenskap tot armoede gedwing.
           
2.3 Emus
Hierdie was ‘n piramied skema waarvan Gerhard Grobler die besturende direkteur van die maatskappy is. Hierdie skema was vir meer as twee jaar bedryf. Die beleggers is ‘n opbrengste van
10 % per maand belowe. Tot en met die datum wanner die Suid-Afrikaanse Polisie se Handelsmisdaadeenheid op Emus en sy direkteur toegeslaan het, het die beleggers hulle 10 % per maand ontvang. Die meeste van die beleggers was selfs vir die polisie kwaad omdat hulle hierdie skema stopgesit het. Emus was ‘n geregistreerde privaat maatskappy opgerig volgens die maatskappywet en die statute van hierdie land.
Die maatskappy en sy agente het aan die beleggers voorgehou dat hulle ‘n mikroleners besigheid bedryf en dit was die bron van inkomste waarvan die 10 % per maand gegenereer sou word.
Volgens Emus het hulle kontrakte met die mynbedryf gehad waar die geld aan die myn se werknemers sou geleen word. Die geld word uitgeleen teen 30 % per maand en die belegger ontvang sodoende sy 10% per maand.

 Die maatskappy het ‘n droom verkoop maar het aan die einde van die dag slegs elende gehad om vir hulle goedgelowige beleggers te offer.
Daar was geen mikroleners bedryf nie en dit was ‘n piramiede skema. Grobler is aangekla van Artikel 11 van die Bankwet. Dit is die ou wet op Deposito nemende Instellings. Dit wet kom basies daarop neer dat as ‘n persoon of instansie deposito’s van die publiek neem hy handel dryf as ‘n bank en moet dan dienooreenkomstig as ‘n bank geregistreer wees.
Aan die einde van Emus se termyn het Grobler se prokureur hom oortuig dat hy die bankwet oortree en hom gehelp om ‘n nuwe maatskappy op die been te bring wat die bankwet sou omseil.
Sodoende is Gaius Group of Companies gestig.

  
2.4 Gaius Group of Companies
Gaius Group of Companies was dus ‘n direkte uitvloeisel van Emus gewees. Hier het die struktuur van die maatskappy so verander dat dit ‘n doelbewuste poging was om die Bankwet en die Maatskappywet te omseil.
Gauis Group of Companies het uit vyftig maatskappye bestaan. Een houer maatskappy en 49 maatskappye waarvan al die aandele gehou was deur die houer maatskappy. Die aandele van die houer maatskappy was weer opgeneem deur die Grobler se besigheidstrust. Sodoende kon Grobler die maatskappy bedryf sonder dat hy ooit as ‘n direkteur van die maatskappy benoem is. Direkteure met die regte agtergrond in die oë van die publiek is aangestel. Gauis het verder kantore gehuur wat net die beste was en het die indruk geskep van welvaart en sukses.
In Gaius se geval was daar nie van beleggers gepraat nie aangesien dit weer sou neerkom op ‘n oortreding van die bankwet. Beleggers het in hierdie geval aandele gekoop in die maatskappy.
 Een aandeel was verkoop teen R 25 000.00 elk. Dit was dan ook die rede dat daar 49 privaat maatskappye gestig is sodat daar genoeg aandele sou wees.
Die wet bepaal dat in ‘n privaat maatskappy daar slegs 50 aandeel houers kan wees. Dit was ook ‘n rede waarom 49 privaat maatskappye gestig was. Gauis het nog een probleem gehad voordat hulle kon begin nuttelose aandele verkoop. Artikel 143 van die Maatskapy wet bepaal dat geen aandele aan die publiek verkoop mag word sonder ‘n prospektus nie. ‘n Prospektus is basies enige dokument wat ‘n lid van die publiek beweeg om aandele in ‘n maatskapy op te neem. ‘N verdere vereiste is dat hierdie ‘n openbare maatskappy moet wees en dat die prospektus by die registrateur van maatskappye geregistreer moet wees.
Hoe nou gemaak. Maklik Artikel 144 van die Maatskapy wet bepaal onder andere dat as daar mense is met ‘n gemeenskaplike oogmerk word hulle nie beskou as algemene lede van die publiek nie.
Hierdie artikel bepaal natuurlik nie presies dit nie maar dit is aan die publiek voorgehou en ‘n maatskappy met die naam Inflasion Basher Group is gestig waar lede van die publiek kon lid word. Sodoende is hulle nie meer lede van die algemene publiek nie en word die maatskappy wet omseil.
Gauis het verder 8.75 % dividende aan hulle aandeelhouers beloof. Let daarop dat dit nie meer rente aan beleggers is nie maar dividende aan aandeelhouers. Dividende word egter uit wins verklaar en aangesien hierdie ‘n piramied skema was was dit maar niks anders as Emus nie.
Komplekse strukture en manupilasie van die landswette is hier gebruik om die voornemende slagoffer te beindruk en te vang. Gauis het aan hulle aandeelhouers voorgehou dat hulle geld in die buiteland verdien deur High Yield beleggings. Verder het Gauis net soos Emus voorgehou dat hulle in die mikroleners bedryf was.
Gauis is ‘n goeie voorbeeld van ‘n maatskappy wat geregistreer was by die registrateur van maatskappye en steeds ‘n piramied skema bedryf het. Ons moet ons nie laat flous net omdat die regte dokumentasie voorberei is en geregistreer is nie. Die registrateur van maatskappye se funksie is om die prospektus te registreer. Die maatskappy wet skryf wel die vereistes van die registrasie voor maar die registrateer van maatskappye is nie die reguleerder van die maatskappye se bedrywighede waarvan hy die prospektus goedgekeur het nie. Dit beteken slegs dat die vereistes van die wet van toepassing op die registrasie van die prospektus nagekom is.
2.5 Die gesamentlike projek
Die witwoordjie misdadiger wat piramide skemas bedryf is in die meeste gevalle baie inoverend. In ‘n onlangse geval het dit onder my aandag gekom dat beleggers 10 % per maand aangebied is deur ‘n instansie. Die kontrak wat egter met die slagoffer gesluit word verwys na ‘n samewerkings ooreenkoms en na ‘n projek. Wat dit eindelik beteken is dat u ‘n venoot is in ‘n besigheid wat ‘n projek gaan loots. U gaan natuurlik nooit enige geld ontvang nie en as u die instansie hof toe neem word na die kontrak verwys en u word as ‘n venoot beskou in ‘n besigheid wat nie gewerk het nie. U kan dus nie die geld van die instansie verhaal nie aangesien dit ook net ‘n venoot is wat saam met u geld verloor het.
Die misdadiger stig dan net weer ‘n nuwe besigheid met ‘n nuwe naam en siedaar hy is weer instaat om nuwe venote in te neem.
In al die kontrakte wat ek gesien het was die meesterbrein agter die instansie se naam en handtekening nooit op enige kontrak nie. Die agente wat vir die persoon werk teken namens die instansie wat dit ‘n armlengte transaksie van die misdadiger af weghou.
Die agente glo ook in die projek tot hy nie meer bestaan nie. Elke nuwe projek het dan ook nuwe agente en so gaan die piramiede proses voort.

Word vervolg

Groete tot volgende keer

CA GROBLER
ngrobler@mweb.co.za

No comments:

Post a Comment