Thursday 27 October 2011

Die Hof vir Klein Eise

Hierdie is ‘n regsinstrument wat meer aangewend behoort te word deur elke individu wat ‘n siviele eis onder R 12 000.00 het. Vir die persoon wat nie deel is van die regslui nie,  is enige hofprosedures meer ‘n afskrikmiddel as ‘n regsremedie.  Ek hoop hierdie artikel sal die proses vir u meer eenvoudig maak.

Wie mag ‘n eis instel ?
Enige individu maar geen maatskappy, beslote korporasie of enige ander regsentiteit nie.

Teen wie mag die eis ingestel word ?
Behalwe teen die staat mag enige siviele eis onder die bedrag van R 12 000.00 ingestel word teen maatskappye, beslote korporasies en selfs munisipaliteite.
Egskeiding kan nie deur hierdie hof aangehoor word nie.

Prosedure:
Eerstens moet ‘n skriftelike aanmaning aan die teenparty gestuur word en dit is beter om dit per geregistreerde pos te stuur of persoonlik af te gee met ‘n ontvangserkenning.
In hierdie aanmaning moet die gronde vir die eis behoorlik verduidelik word.

Die teenparty het 14 dae om te reageer en verweer aan te teken.
Na die 14 dae moet gerapporteer word aan die klerk van die Klein Eise Hof in persoon met die bewyse, asook die bewys van aflewering. Die klerk sal ‘n hofdatum bepaal vir die aanhoor van beide partye se weergawes.

Die klerk sal jou ook behulpsaam wees om ‘n dagvaardiging uit te reik teen die ander party. Die dagvaardiging moet op die persoon beteken word. Indien u dit nie self wil doen nie,  kan die balju gevra word maar daar is kostes vir die betekening wat u sal moet betaal.Stel jou getuies in kennis van die verhoordatum en kry jou bewyse reg vir die bepaalde hofdatum.

Indien die teenparty aan jou eise voldoen voor die verhoordatum,  stel die klerk van die hof in kennis sodat u nie die hof se tyd mors nie.
Die verhoor word aangehoor deur ‘n kommissaris en nie ‘n landros of magistraat nie. Die kommissaris is normaalweg ‘n prokureur.

Geen prokureur mag u of die ander party verteenwoordig nie. Geen kruisondervraging vind plaas nie en slegs die kommissaris het die reg om vrae te vra en sal sy besluit daarvolgens maak.

Die kommissaris se besluit is finaal en geen appèl word toegelaat nie. Indien die teenparty nie onmiddelik na die beslissing kan betaal nie, sal sy finansiële posisie deur die hof ondersoek word en betalingreëlings sal met hom getref word.

Hierdie is ‘n eenvoudige proses sonder enige regstaal of Latyn of hoog Engels, en is ontwerp vir die algemene man op straat.
So gebruik dit.

Groete tot volgende keer

CA GROBLER
Neels@vdberglaw.co.za

2 comments:

  1. This comment has been removed by a blog administrator.

    ReplyDelete
  2. Baie dankie vir die bruikbare inligting

    ReplyDelete